THE PERFECT REMOVER ...

DRUGS, ALCOHOL AND OTHER SUBSTANCES

People use drugs, alcohol and other activities for many reasons; to feel pleasure, to forget their problems, to help them relax. No one chooses to become an addict but for every addict, at one point or another, they can no longer make a choice about whether or not to use.


The psychological and physical dependency on the substance or behaviour overrides all logic. No matter how much they love their families and friends they will engage in behaviours that can destroy those relationships ? They lie, steal, cheat and abuse themselves and others.


People who are addicted have lost all hope, all faith, all belief that they can survive without alcohol or other drugs. These substances are not just stress relievers or a crutch, but life itself. It's no wonder that if you try to take that away from them, they'll fight like they are fighting for their life, because they are.


You are not alone. Many people have overcome addiction and are now enjoying a better life. It can be done.


Colonel (V) Sue Schoeman will gladly walk the road with any WBW member to overcome any type of addiction.  Please forward your request for assistance with your full contact detail to Colonel (V) Sue, wbw.20120214@gmail.comAll personal information will be treated with confidentiality.




DIE MANLIKE BREIN 
Die brein is die laaste Groot Onbekende. Vroue het nog altyd gewonder wat in ’n man se kop aangaan, maar dié foto is voorlopig die naaste wat hulle daaraan gaan kom.

Terwyl wetenskaplikes nog daaraan werk om die geheime van die brein te ontrafel, kan mans gerus wees dat hul denke geheim sal bly.

Gevra wat hy dink, het ons model ná die fotosessie erken al gedagte wat by hom opgekom het, was: “Dis al weer Maandag”.



EK WEET ...

My dwelmhel.  "GENADE" ,wat is dit?? Die Bybel se betekenis vir genade is "onverdiende guns by God". Ek het die laaste jaar werklik agter gekom wat genade regtig is! Ek was so vasgevang in heroin dat ek my Ma se kar gesteel het,my verloofde en ons dogtertjie by my Ma gelos het en verdwyn het. Ekt nie omgegee of ek lewe nie,ek was van plan om myself dood te maak. Ek het myself en almal om my gehaat, Heroin was al wat saak gemaak het. Geen rehab in Suid Afrika sou my kon reg kry nie, en my Ma het dit geweet. Ek weet dit was baie moeilik vir haar maar sy’t my laat toesluit. Ek het tot by die polisiestasie probeer ontsnap. As ek nie nou in die tronk was nie was ek dood, maar my Ma het genoeg omgegee om my lewe te red! Nog ‘n rede wat my laat moed hou het is my liefste Ananda en Leane en Mekyla. Ananda staan nog al die tyd by my en wag al meer as n jaar getrou vir my....dan is daar Shanel en Antoane my 2 susters wat ook kom kuier. GOD het my gewys wat "GENADE" is deur my familie, want as hulle my als wat ek gedoen het kan vergewe, hoeveel keer meer kan GOD my vergewe nie?? Ek is al 13 maande skoon en daar was baie versoekings, die tronk is vol dwelms maar die keuse is myne . EK KIES OM NEE TE Sê... Dankie Ma ,Shanel en Antoane vir alles wat jul vir my doen en dankie Ananda dat jy so mooi na ons dogtertjie kyk jy’s ‘n gr8 Mamma. Ek is lief vir julle almal ,dankie vir die groete gebede en support. Gerhard.




EK WEET ...
DONKER LIEFDE

Heroïen het verwoesting gesaai in die lewe van Anoux Venter en die mense om haar. In dié kort uittreksels uit Donker Liefde – My verhouding met heroïen, beskryf sy haar eerste bekendstelling aan dié dwelm en haar verval.
Sy het by die dood omgedraai, maar haar verhaal is ook een van hoop en oorwinning want sy is nou ses jaar lank skoon.


RAINE wou my gaan voorstel aan sy nuwe baas en sy kollegas. Hy het ook gesê hy gaan my aan Brown Sugar voorstel.

Om eerlik te wees, ek kan nou glad nie onthou wat ek gedink het nie. Dat Brown Sugar heroïen is, het ek nie een keer aan gedink nie, dit weet ek vir seker. Ek sou die stuipe gekry het as ek dit geweet het. Maar ek moes geweet het dis dwelms; dwelms het mos sulke snaakse name.

Brett, sy baas, was ’n gay man wat in ’n pragtige woonstel teen die berg gewoon het. Hy was netjies, en ek was beïndruk. Die oomblik toe ek by sy huis instap, het ek gemaklik gevoel. Die sitkamer was skemer, met kleurvolle lappe oor die ligte gegooi om ’n warm, gesellige atmosfeer te skep.

Daar was ’n klomp gemaklike banke en alles was stylvol. Ek kon die dagga ruik wat hulle moes gerook het net voor ons daar aangekom het. Ek was verbaas daaroor; ek het gemeen dat iemand wat so suksesvol is nie dwelms sou doen nie.

Ek is aan almal voorgestel, en ná die groetery is die vraag dadelik op die tafel gesit: ‘Is julle reg vir chasing the dragon?’

Toe hulle foelie, vuurhoutjies en sakkies vol bruin poeier uithaal, was ek baie senuagtig. Ek het een en een bymekaargetel en aanvaar die bruin poeier is die Brown Sugar, wat dit ook al was. Vandag kan ek nie glo ek was so dom, naïef en desperaat vir Raine se liefde nie.

Maar daardie dag was ek, en dit het al die verskil gemaak. Hy was in my oë net die beste, net die mooiste. Hy was myne en ek wou hom vir niks in die wêreld verloor nie. Ek sou hom volg nes ek daardie aand gedoen het, na enige plek, pateties en stil in sy skaduwee.

Toe die foelie vir my aangegee is, was ek nuuskierig, en sonder om te blik of te bloos het ek die rook ingeasem. Vir my was dit net nog ’n eksperiment, nog iets waarmee ek sou speel. Net om in te pas, net vir liefde. Maar dit was baie meer as dit. So ongelooflik baie meer.

Toe ek al taamlik sterk in die ding was, het mense my vertel dat die liggaam se normale reaksie op heroïen gewoonlik sleg is, dat jy siek word en opgooi. Hulle was baie verbaas dat ek dit so goed hanteer het.

My eerste asempie van die dood was soos enige ander dwelm wat ek al probeer het: wonderlik! Eintlik baie meer as wonderlik.

Daar is geen woorde om te beskryf hoe dit gevoel het nie. Soos die rook in my keel afgegly het tot in my longe, het alles getintel en toe lam geword. Ek het teruggesak op die bank en dit het gevoel asof ek een word daarmee.

Elke lewende senupunt het verdoof. Die geluide om my was sagter, die ligte mooier, my asemhaling makliker, my liggaam ligter, my probleme het verdwyn.

Selfs Raine het vervloei en verdwyn te midde van my ekstase. Ek was alleen op ’n wolk wat ver weggedryf het van alles en almal om my.

En vir die eerste keer ooit was dit vir my okay om alleen te wees – ek was nog altyd baie bang om alleen te wees.

Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies en gevoelens was enorm. Maar ek moes dit net nooit gedoen het nie, dis die punt.

Sommige mense, soos ek, is gemaak om van heroïen te hou. Ons persoonlikheid, swakhede, vrese en liggaamselle is gemaak om heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit beproef het nie, en dan is dit reeds te laat.

DIT het so vinnig gebeur dat ek dit nie eens agtergekom het nie: Ek was nie meer ’n geleentheidsgebruiker nie, dit was elke liewe dag. Met ’n passie. Ek wou nie daarsonder nie; ek wou nie eens probeer nie. Ons was permanent op heroïen, dag in, dag uit.

My brein het oorgegee en ek het nie meer probeer om die verslawing te keer nie. Hoe meer ons dit gebruik het, hoe lekkerder was dit.

Ek en Raine het soos kluisenaars geword. Ons het eenvoudig die deur agter ons toegemaak en skelm ons dwelms gebruik. Kombinasies van alle soorte. Daar was net mooi niks op die mark wat ons nie gebruik het nie.

Ek het lankal ophou baklei en rasionaliseer en dit net eenvoudig geniet.

MY LYF kon ook nie meer nie. Ek het vreeslik siek begin word van al die gesnuif. Ek het ná elke lyn gaan opgooi, net om dan weer te probeer.

Ek het aangehou tot dit binne gebly het. Ek kon nie meer nie, maar ek het ook nie geweet hoe om op te hou nie.

Hoe meer coke ons gebruik het, hoe meer heroïen moes ons rook om weer af te kom van die verskriklike buzz. Dit was soos ’n wipplank wat buite beheer was.

Ek het teen ’n verstommende spoed in die verslawing verval. Ek het elke dag heroïen gebruik; ek kon nie langer as ’n paar uur daarsonder nie. Dan sou my neus begin loop en my rug pyn, maar een teugie en binne oomblikke was alles normaal, perfek.

My porsies het al groter geword, die onttrekking as ek wakker word al meer intens. Ek kon nie meer laat slaap nie. As ek langer as ses uur aaneen geslaap het, het ek met krampe wakker geskrik.

My metabolisme was net so vinnig, indien nie vinniger nie, as Raine s’n destyds.

My lyf het aangepas by die dosis wat ek ingepomp het, en ek het meer en meer en meer nodig gehad om lekker te voel. Eintlik om net normaal te voel. Heroïen was lankal nie meer lekker nie – ek moes dit rook om die krampe weg te hou.

KERSOGGEND skrik ek te laat wakker. Ek moet kerk toe, my ma wil geen verskoning hoor nie – niks nie. Ek het die kerk meer as ooit gehaat.

Ek kon God nie in die oë kyk nie, ek was skaam. Ek was in elk geval seker Hy wil my nie meer ken nie, hoekom sou Hy?

Ek het jare laas aan Hom gedink of met Hom kontak gemaak. Ek het alles gedoen wat teen sy wil was, en al wou ek dit soms regmaak, was ek nie sterk genoeg nie. My neus het al geloop toe ek my oë oopmaak.

Ek het goed geweet ek het net een klein krummeltjie heroïen oor; ek het skoon vergeet van die kerktoeganery. Ek was gewoond ek kon vroeg opstaan en doen wat ek wil, maar nie daardie oggend nie.

Ek rook versigtig die laaste bietjie en bid dat dit my sal hou tot ná die diens. Hoe ironies. Ek bid, vir die eerste keer, dat my heroïen nie sal uitwerk in God se tempel nie.

Wat ’n siek grap. Maar ek het nog steeds vurig gebid, want ek het geweet as dit sou uitwerk, sou ek in die hel wees.

Die diens was ’n nagmerrie – asof die duiwel langs my gesit en my heelpad getart het. Die onttrekkingsimptome het vinnig en verwoed gekom; my neus het sommer begin stroom. Ek het snuif-snuif daar gesit tot almal later omgekyk het.

My ma het geïrriteerd vir my ’n tissue aangegee. Een tissue? Dit gaan niks help nie. My bene het begin kramp; ek het hulpeloos die bank voor my met my voete gesit en tik-tik. Ek het my oë styf toegeknyp en gebid, weer eens, dat die diens net moet verbygaan.

Die duiwel het nie my gebede verhoor nie. Inteendeel, dit was die langste diens van my hele lewe. Ek is in trane by die kerk uit, die Here se teleurstelling warm op my wange.

Ek gaan hulp kry, besluit ek. Een van die dae. Nog net ’n klein rukkie, asseblief.

OP ‘N dag, terwyl ek by die werk is, bel my ma my. Sy is kortaf en sê sy wil my die volgende dag tweeuur in haar kantoor sien.

Sy was saaklik en ek kon hoor dis baie ernstig. Ek was dadelik bang; ek het haar nog nooit só gehoor nie. Ek kan sien sy is tegelyk hartseer en kwaad.

Snaaks, dink ek nog, my ma is amper nooit emosioneel nie, ek wonder wat so ernstig kan wees. Ons sit oorkant mekaar en kyk mekaar stip in die oë.

Ek is vreeslik ongemaklik. Sy sê niks nie.
Ek sê niks nie.
Sy wag en ek wag.


Tot ek dit nie meer kan hou nie en met ’n bewerige stem vra wat aangaan. Sy is rustiger as wat ek verwag het; sy antwoord my sonder om te skree of te gil: Sy wil by my hoor wat fout is.

Ek haal diep asem vir die eerste leuen: “Moenie worry nie, Ma, ek is fine, alles is onder beheer.’”

Sy is onmiddellik woedend en ek kan nie verstaan hoekom nie, ek ís dan okay en alles ís mos onder beheer. Ek besef ek sal iets meer moet sê.

Ek rook nog steeds dagga, lieg ek, maar dis glad nie so erg nie. As sy wil hê ek moet ophou, sal ek, no big deal.

Hoe meer ek praat, hoe kwater word sy.

Ek besef met ’n nare skok dat alles verby is, dat sy weet en dat ek nie weer hieruit sal kom nie. Naarheid stoot in my keel op en vir ’n oomblik vrees ek dat ek gaan opgooi in my ma se kantoor.

Sy sê dis my laaste kans. Ek weet dit is. Dit was die eienaardigste gevoel: die oomblik toe ek oorgee. My lyf het onmiddellik slap geword, asof die demone een vir een daaruit gespoel word.

Hulle kon dit nie hanteer dat ek hulle so bedrieg en die waarheid vertel nie. Ek het diep asemgehaal en net laat gaan. My mond het oop en toe gegaan soos ek gepraat het; ek kon nie keer wat uitkom nie.

Die verligting was enorm. Dit was letterlik asof die gewig soos ’n berg van my skouers afgeval het.

My trane het vinnig gekom. Só vinnig dat ek vir ’n paar oomblikke nie kon praat nie. Ek het net gesit en snik in my ma se stoel in haar kantoor by die werk. Nooit het ek kon dink dat alles hiér sou eindig nie.

Toe ek opkyk in haar oë, het ek verwag hulle sal hard en kwaai wees. Maar hulle was sag en vol liefde. Daar was geen woede nie, geen beskuldigings, net liefde en ondersteuning. En verligting.

Uiteindelik verbreek my ma die stilte en sê ons moet ry.

Ek wil nie vra nie, maar ek weet. Dit ruk my met ’n skok terug tot my sinne. Ek sit regop, ewe skielik gereed om te baklei. Die verligting was so oorweldigend dat ek ’n ruk vergeet het van die gevolge van my openbaring.

Die spanning is terug in my rug, en my vingers klou aan die rand van die stoel.

Die woord rehabilitasie het skaars oor my ma se lippe gekom toe ek haar begin smeek én dreig: Ek sal eenvoudig wegloop as sy my daarheen vat.

Ek is in geen posisie om te onderhandel nie, maar ek is vasberade om op my manier vir my vryheid te baklei.

So bly soos ek was dat alles nou in die ope was, was ek glad nie bereid om na ’n inrigting gestuur te word nie. My ma vra wat anders stel ek dan voor.

Ek het nog nooit daaraan gedink nie, maar op daardie oomblik besef ek dat ek net een opsie het en dis by die huis.

Alleen. Sy is baie skepties, maar is tog bereid om my een kans te gun. Dis die ooreenkoms: Ek kan dit op my manier probeer, maar as dit nie werk nie, moet ek instem om rehab toe te gaan.

EK WORD vroeg wakker van maagkrampe en die naarheid wat in my keel opstoot.

Ek is gewoond aan naarheid, maar hierdie keer kan ek skaars die badkamer haal. Niks wil binne bly nie, nie eens water nie.

Dit is skaars in my maag, dan stoot dit weer in my keel op. Ek is pap en kan skaars regop staan; alles in en aan my pyn. My maag begin werk.

Ek sweet en is terselfdertyd vol hoendervleis asof ek koud kry.

Ek bevuil myself. Ek is nes die junkies op TV wat in hulle eie pie en sweet en kots lê. Ek is niks beter as hulle nie.

Dit was my eerste dag. Die eerste van sewe sulke dae. Teen dag vyf is ek seker ek gaan dood. Ek is leeg. Ek is ’n geraamte op geleende tyd.

Daar is niks meer oor in my nie; ek is seker ek het my siel ook uitgekots. Ek is te skaam om in die spieël te kyk, ek wil myself nie sien nie.

Ek is volkome gedehidreer en het dringend vloeistof en voedingstowwe nodig, maar ek kan niks inhou nie.

Darren, wat saam met ons by die seekosrestaurant gewerk het, se ma is ’n verpleegster wat mense help detox. Sy is dadelik bereid om te help.

Ek moet so gou as moontlik vloeistof inkry, anders sal my liggaam in hewige skok gaan en kan ek ’n hartaanval kry en sterf.

Sy vra hoe lank tevore ek enigiets ingeneem het en watter medikasie ek gebruik. Toe ek sê dat ek al die vyfde dag van onttrekking beleef, is sy baie geskok dat ek so ver gekom het sonder enige medikasie of hulp.

Sy verduidelik hoe ontsettend gevaarlik dit is om so iets op jou eie te probeer doen. Uiteindelik het ek my aan die Here oorgegee. Die las wat ek moes dra, was net te veel.

Ek kon nie meer nie. Ek was dubbel gevou onder die gewig en ek het God aangeroep en gevra dat Hy kom oorneem.

Teen dag tien raak ek vir die eerste keer normaal aan die slaap . . .

ABBY, my terapeut, het my lewe gered. Sy was die laaste stilhouplek op my pad na vryheid. Sy het geluister en verstaan.

Sy het geweet waar ek was en hoekom ek daar was. Sy het aan my en my ma verduidelik dat hoewel ek baie dapper was om alleen deur die heroïenonttrekking te gaan, dit baie gevaarlik was.

’n Rehabilitasiesentrum is nie net ’n plek waar die fisieke aspekte van verslawing oorkom word nie; ’n mens word ook geleer hoe om met jou emosies te werk, en jy word gehelp om weer deel te word van die samelewing.

Ek was onder die indruk dat wanneer die fisieke pyn, die lus vir heroïen en die siek word verby was, sou alles sommer net so in plek val.

Maar sy het verduidelik dat dit maar net die begin van my stryd was – ’n stryd wat ek sou stry vir die res van my lewe. En al sou dit mettertyd makliker word, is verslawing ’n demoon wat nooit werklik verwoes kan word nie.

Dis nou al ses jaar sedert daardie middag in my ma se kantoor toe ek my verslawing erken het. Ek is weer heel. Ek is getroud met die wonderlikste en geduldigste man in die wêreld. Hy het my lief, waarlik lief.

Ek het niks meer nodig in my lewe nie. Ek wens vir niks meer nie. By my familie het ek liefde, ondersteuning en vergifnis gevind. En ek het geleer hoe om waarlik te lewe met die Here aan my sy.

All about heroin

Donker liefde - My verhouding met heroïen, deur Anoux Venter.
Uitgegee in 2007 deur Human & Rousseau, ’n afdeling van NB-Uitgewers
(Edms) Beperk.
Dit kos R135.00
ISBN-10 0-7981-4816-0
ISBN-13 978-0-7981- 4816-0


Huisgenoot Pols Somer 2007/8






VAN DIE HEMEL TOT DIE DIEPTES VAN DIE HEL
Deur David Moseley en die Health24-span
Mense gebruik dwelms omdat dit hulle fantasties laat voel. Maar hulle het nie ’n benul van die enorme breinskade wat die nuwe soorte dwelms kan aanrig nie. Ook dokters en psigiaters begin nou eers dié skade op breinskanderings sien.
VAN DIE toppunt van ekstase tot in die dieptes van die hel. Binne ’n oogwink. En dan: Breinskade vir die res van jou lewe.
Dis wat die jongste straatdwelms aan jou kan doen.
En selfs ná jy opgehou het daarmee, kan hierdie dwelms die delikate weefsels van jou brein verskroei, sodat jy verander in ’n monster wat tot die allerverskriklikste geweld in staat is. Of net in ’n donker moeras van depressie versink waaruit NIKS jou weer sal kan verlos nie.
Maak nie saak watter dwelm jy beproef nie, al is dit net vir één aand se rave, jy kan maar weet jy speel met vuur. Dit wat jy daar rook of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein met die geweld van ’n weerligstraal tref.
Dis nie sedebewakers, onderwysers en predikante wat só sê nie. Dis geharde polisiemanne, chemiese wetenskaplikes en psigiaters wat die uitwerking van dié dwelms met verbystering aanskou.
Vergeet maar alles wat jy gedink het jy van dwelms weet. Niks kan jou voorberei op die verskrikking wat nou deur charlie en rock, crystal, hot ice, china white en liquid ecstasy gesaai word nie.
En dis nie elders nie, dis hier, in doodgewone buurte, in ons skole en universiteite waar dit gebeur onder gewone tieners wat net pret wil hê en grootmense wat van beter behoort te weet.
Die hippies en dwelms van ’n vorige era begin soos ’n kindertuin lyk. Vandag se dwelms is soveel kragtiger, werk soveel intenser op jou in, bring jou tot ekstatiese hoogtepunte van euforie en energie, en slinger jou daarna in die dieptes neer. Dis nie verniet dat hulle sê jy ‘crash’ nie.
Tot dusver het niemand geweet watter verwoesting hierdie chemiese geweld in jou brein saai nie. Nou begin ons weet. En dis ’n skrikwekkende gesig.
  • Psigiaters sien die skisofreniese wrakke wat voor hulle sit.
  • Verloskundiges staan met babas wat met hul derms buitekant hul lyfies gebore is.
  • Polisiemanne hanteer die slagoffers van meedoënlose misdade.
  • Neuroloë peil met die jongste tegnologie vir die eerste keer werklik die omvang van die breinskade wat aangerig is.
As jy dink dít is erg, dan moet jy jou staal vir die volgende dwelmgolf wat die land gaan tref, sê superintendent Casper Venter van die SAPD se forensiese laboratoriums.
Daar is die dwelm yellow honey, ’n dodelike nuwe vorm van marijuana, wat sewe keer sterker as gewone dagga is en tot ’n “inploffing” in jou brein kan lei.
Dit het onlangs in Los Angeles kop uitgesteek. Die SAPD se narkotikaburo voorspel dat dit binnekort in Suid-Afrika vastrapplek kan kry en dat dit die tikprobleem na ’n piekniek gaan laat lyk.
Plaaslike dwelms is nie veel veiliger nie. ’n Mens het geen idee van wat werklik in daardie middels skuil wat êrens in ’n toilet, huis of pakkamer vervaardig word nie.
Straatdwelms word dikwels met die hoogs verslawende heroïen gemeng om te verseker dat jy fisiek afhanklik raak.
Mense besef ook nie altyd hoe gekonsentreerd straatdwelms kan wees nie; dis soms tot 1 500 keer meer as die dosis wat die liggaam met veiligheid kan hanteer.
Dis soos om vuurpylbrandstof in ’n stokou kar te gooi.
Dis ook moontlik dat straatdwelms skadelike onsuiwerhede kan bevat. ’n Voorbeeld is ’n chemiese stof in Mandraxpille wat longkanker kan veroorsaak.
Op die spoor van dwelmgebruik volg die misdade wat daarmee saamhang.
“Ons sien ál meer dat as iemand vermoor word, hy nie een keer gesteek of geskiet word nie, maar sommer sestig keer. Tikgebruik verander die chemiese werking van die brein en stomp die verbruiker af.
Om iemand te verkrag of dood te maak, is vir hom niks nie,” sê Casper.
Die nege algemeenste straatdwelms
Die middels wat hier bespreek word, is onwettig en word gelys in die Dwelmwet, Wet 140/92.
Die algemeenste straatdwelms wat in Suid-Afrika misbruik word, kan geklassifiseer word volgens hul uitwerking op die brein.
Daar is drie hoofklasse: Opkikkers (stimulante), onderdrukkers (depressante) en hallusinogene (wat jou vreemde dinge laat ervaar).
OPKIKKERS (STIMULANTE)
Hieronder tel kokaïen, crack, Ecstasy, tik, crystal meths, amfetamiene, efedrien en Khat. Dié middels stimuleer die brein en verhoog die hartklop. Jong mense gebruik dit om hulle sterker en meer energiek en doelgerig te laat voel.
Tipiese tekens van die gebruik van stimulante is ’n kleiner eetlus, hope energie, slapeloosheid, vergrote pupille, spraaksaamheid, prikkelbaarheid, angs, hiperaktiwiteit, skielike buiveranderings, ongeduld en senuagtigheid.
1. Kokaïen
Straatname
Blow, charlie, coke
Dié dwelm, wat jou verstand beïnvloed, word van die kokabos in Peru, Bolivia en ander bergagtige lande vervaardig en was eens die glansdwelm van die rykes en bekendes, maar deesdae eksperimenteer ál meer kinders daarmee.
Die hemel:
’n Gevoel van opgewektheid, euforie, hiperaktiwiteit, selfvertroue, verhoogde bewustheid en onbeperkte energie.Dié opwelling vind plaas vyf tot tien minute nadat die kokaïen gesnuif is.
Die hel:
Party gebruikers ervaar hoofpyn, bewerigheid, angstigheid en slapeloosheid ná ’n enkele dosis. Groter dosisse kan tot ’n gekners van die tande en kompulsiewe gedrag soos ’n gekrap en vingergetrommel lei. Gebruikers kan stemme hoor en hewige vervolgingswaansin kry. Hulle kan angstig voel, irrasioneel dink en ook aggressief word. ’n Oordosis kan rukkings, paniekaanvalle, hartversaking, beroerte, asemhalingsprobleme en die dood veroorsaak.
Uitwerking op die liggaam:
Jou polsslag en bloeddruk styg en jou pupille vergroot. Mettertyd sal jy uitgeteer lyk, jou seksdrif sal afneem en jy sal gereeld verkoue en ’n loopneus kry.
Kortliks: Jy sal verskriklik gehawend lyk. Kokaïen is sielkundig en fisiek verslawend. As die euforie eers verby is, smag gebruikers na nog stimulering.
Uitwerking op die brein:
Kokaïen meng in met die natuurlike afskeiding van dopamien en serotonien, die brein se chemiese boodskappers wat jou lekker laat voel. Dit veroorsaak ophopings van hierdie breinoordragstowwe en gee aanleiding tot die welbekende “kruin”wat gebruikers ervaar. Die vreesaanjaende feit is egter dat kokaïen die breinoordragstowwe uiteindelik so kan uitput dat dit depressie, apatie, moegheid, angstigheid en selfmoordneigings kan veroorsaak wat maande kan duur.
As die uitputting algeheel en blywend is, sal selfs die beste antidepressante nie werk nie en jy kan dalk nooit in staat wees om uit dié donker dieptes te ontsnap nie.Jy kan ook Parkinson se siekte ontwikkel wat jou op ’n vroeë leeftyd soos ’n bejaarde sal laat bewe.
2. Crack
Straatname
Rocks, freebase
Crack is ’n goedkoop vorm van kokaïen wat deur bymiddels in rookbare rocks omskep word. Dis ’n gekonsentreerde vorm van kokaïen en om op te hou, is drie keer moeiliker as met ander dwelms.
Die hemel:
Jy voel welgeluksalig, opgewek en eufories. Die hoogtepunt is intens, maar duur maar ’n rapsie meer as tien minute.
Die hel:
Die gevoel van euforie word vinnig opgevolg deur net so ’n intense gevoel van depressie, wat die behoefte skep om weer en weer te rook. Dié siklus van kruine en insinkings lei tot ’n verslawing wat vinniger as enige ander dwelm posvat. Die risiko van ’n oordosis is ook baie hoog.
Uitwerking op die liggaam:
Dieselfde as kokaïen, maar intenser. Gebruikers kan “sneeuligte” of stralekranse sien. Hul polsslag kan onreëlmatig raak, wat ’n hartaanvalrisiko verhoog.
Uitwerking op die brein:
Omdat dit gerook word, bereik ’n hoë dosis die brein binne minder as tien sekondes – met ’n vyf tot tien keer hoër konsentrasie as kokaïen (wat gesnuif word).
Dit verander die biochemiese toestand van die brein en put die voorraad van dopamien en serotonien, twee goedvoel-oordragstowwe, uit.
Hierdie skade kan blywend wees, wat tot voortdurende paranoia, selfmoordneigings en depressie, of hewige woedeaanvalle kan lei.
3. Ice
(KRISTALMETAMFETAMIEN)
Straatname
Crystals, crystal, meth, rock, candy, batu, glass, LA glass, super ice, hot ice, LA crystal, Hawaiian salt
Hierdie nuwer vorm van gekristalliseerde metamfetamien is byna 100 persent suiwer. Dis reukloos, word in glaspype gerook en is dodeliker as crack en kokaïen en blykbaar verslawender.
Die hemel:
Rokers voel binne sekondes ’n intense opwelling van fisieke en geestelike opwinding. Die uitwerking kan van vier tot veertien uur aanhou.
Die hel:
’n Intense angs- en depressiegevoel, slapeloosheid, moegheid en uiteindelik raak jy die kluts kwyt. ’n Toestand soortgelyk aan paranoïese skisofrenie kan ook op swaar gebruik volg.
Uitwerking op die liggaam:
Gebruikers het groter en groter dosisse nodig vir dieselfde kruin. Langdurige gebruik beskadig die longe, lewer en niere.
Uitwerking op die brein:
Breinskade soos met tik, maar in ’n nog erger graad.
4. Ecstacy
Straatname
XTC, e, Adam, MDMA
Ecstasy is ’n “rave”- of “paartie’’-dwelm en word dikwels gebruik om nagdeur te kan dans. Dis ’n saamgeflanste dwelm of dwelmkonkoksie, soos tik. Hoekom het dit so ’n cool naam? Omdat metieleendioksiemetamfetamien (MDMA) vir selfs die mees gesoute dwelmslaaf een te veel sal wees.
Die hemel:
Daar is ’n verhoogde gevoel van plesier, verhoogde selfvertroue en hope energie, vreedsaamheid, aanvaarding en empatie. Die kruin-fase duur tussen vier en ses uur.
Die hel:
Gebruikers kan onduidelik sien, baie sweet en op hul tande kners of die binnekant van hul wange byt. Hulle kan begin ruk, naar voel, opgooi en epileptiese aanvalle kry. Gereelde of langdurige gebruik of groot dosisse kan jou in ’n hoogs depressiewe, paranoïese mens verander wat angsaanvalle kry.
Uitwerking op die liggaam:
Ecstasy kan selfs in klein dosisse gevaarlik wees vir mense met hartsiektes en asma. Groot dosisse kan tot oorverhitting van die liggaam en brein, waterterughouding, beroerte en hartaanvalle lei.
Uitwerking op die brein:
Ecstasy beïnvloed jou brein deur minstens drie brein-oordragstowwe te laat toeneem (serotonien, dopamien en norepinefrien) en wanneer dit hierdie voorraad uitput, veral die serotonienvoorraad, is ernstige depressie gewoonlik jou voorland.
Psigiaters sê hulle sien al meer hoe Ecstacy-gebruikers se kop uithaak en hulle blywende breinskade kry.
GEVAAR:
Baie saamgeflanste straatdwelms of dwelmkonkoksies (met die misleidende naam designer drugs) word aan naïewe of desperate gebruikers verkoop as heroïen- of kokaïen-plaasvervangers. Omdat jy nie weet wat jy koop nie, is die gevaar groot dat jy ’n oordosis kan inkry.
5. Metamfetamien
Straatname
Tik, tik-tik, crystal, meth, crystal meth, crank, uppers, speed
Tik is ’n dwelmkonkoksie en word verkoop as poeiers, pille en kapsules wat gesnuif, gerook of ingespuit word. Dit kan tuis gemaak word uit medisyne wat oor die toonbank te koop is.
Die hemel
Net soos kokaïen en crack lei tik tot ’n toename in wakkerheid en meer energie, selfvertroue, seksdrif en euforie.
Die hel:
Aggressie, geweld, psigotiese gedrag, geheueverlies en hart- en breinskade. Langtermyn-gebruikers kan feitlik seker wees van slapeloosheid, psigotiese episodes, vervolgingswaansin, hallusinasies en ineenstorting.
Uitwerking op die liggaam:
Bewende hande, verhoogde polsslag en kwaai sweet. ’n Oordosis kan koors en hartversaking veroorsaak. Langtermyngebruik maak die gevaar groter dat jy hepatitis C of MIV opdoen omdat dit ingespuit word en tot hoërisiko- seksuele gedrag lei.
Uitwerking op die brein
Tik werk as ’n stimulant, net soos kokaïen. Dit bly egter veel langer in die liggaam. Die uitputting van die brein se dopamienvoorraad is uiters kommerwekkend. ’n Tik-verslaafde verloor elke twee jaar tot die helfte van sy dopamienvoorraad, teenoor die vyf tot tien persent elke tien jaar vir die gemiddelde mens.
Dopamien help gekoördineerde bewegings reguleer en sodra die vlak met vyftien persent daal, ontwikkel die slagoffer Parkinson se siekte, wat gekenmerk word deur bewerige en rukkerige hande en kop. In die Wes-Kaap is daar jong tik-gebruikers wat reeds aan Parkinson se siekte ly.
Psigiaters is ook besorg oor die toename in gevalle van skisofrenie en psigoses onder tikgebruikers.
Dit lyk of tik mense se breine so beskadig dat hulle soos uiters aggressiewe psigopate begin optree. Dít word weerspieël in die Narkotikaburo se bevestiging dat moorde en verkragtings deur tik-gebruikers sinloser en aggressiewer raak.
Die babas van vroue wat tik tydens hul swangerskap gebruik, het ’n groter kans om al in hul kinderjare Parkinson se siekte te ontwikkel.
Nog erger: Dié babas se derms ontwikkel aan die buitekant van hul lyfies. Babas met dié afwyking word gereeld in sekere hospitale in die Skiereiland gebore.
ONDERDRUKKERS (DEPRESSANTE)
Dié middels onderdruk of vertraag sekere breinfunksies. Afhangend van watter deel van die brein onderdruk word, word dit in subgroepe verdeel, naamlik narkotiese of verdowende middels soos heroïen of middels wat jou slaperig kan maak soos onder meer Mandrax.
6. Heroïen
Straatname
Smack, mud, China white, brown, Mexican brown, brown sugar, gear, H, horse, junk
Heroïen word vervaardig van die hars van die opium-papawer en is die gevaarlikste en verslawendste dwelm. Suiwer heroïen is ’n wit, reuklose, kristalagtige poeier met ’n bitter smaak. Hoe bruiner die kleur, hoe meer onsuiwerhede bevat dit.
Dit word dikwels versny met stysel, suiker soos glukose, poeiermelk, babapoeier, waspoeier, strignien of selfs ander gifstowwe voordat dit verkoop word. Dit word gerook, gesnuif of ingespuit.
Die hemel:
’n Diepgaande gevoel van warmte en welsyn deurspoel die gebruiker en blokkeer alle gewaarwordings van pyn en onsekerheid.
Die hel:
Binne ses tot agt uur kan simptome soos naarheid, braking, koudkry, hewige gesweet en spier- en beenpyne volg. Die eintlike hel begin met die intrede van onttrekkingsimptome wat binne twee dae ná die laaste fix kan begin.
Uitwerking op die liggaam:
Heel eerste lei dit tot pyn-onderdrukking, lomerigheid, swaarheid van die ledemate, vlak asemhaling, ’n swak pols, droë mond en erg vernoude pupille.
Langtermyngebruik lei tot lewerskade en vergiftiging as gevolg van bymiddels, bakteriële besmetting, absesse, infeksie van die hartvoering en -kleppe, en artritis.
Babas van ma’s wat gedurende hul swangerskap heroïen gebruik, kan verslaaf gebore word.
Uitwerking op die brein:
In die brein verander heroïen vinnig in morfien, wat aan sekere reseptors bind om die gevoel van geluksaligheid te gee. Maar die brein reageer op dié bindings deur minder van sy eie goedvoel-endorfiene te vervaardig. Heroïen
mors die chemiese balans in die brein só op dat die gebruiker begin om pyn te ervaar sonder dat daar enige beserings is.
Onvoorspelbare bui-veranderings en verwarring
is die gevolg van die veranderde chemiese stowwe in die brein.
7. Mandrax
Straatname
Whites, Buttons
Suid-Afrika het die hoogste misbruik per kop in die wêreld en die mandrax- (metakwaloon) tablette word gewoonlik fyngemaak en saam met ’n mengsel van dagga of tabak in ’n bottelnekpyp, ’n sogenaamde white pipe of “witwyf”, gerook.
Die hemel:
Jy voel heeltemal ontspanne, vreedsaam en sorgeloos. Niks ter wêreld kan jou skeel nie.
Die hel:
As jy te veel rook, sal jy naar voel, of bewusteloos of heeltemal bedwelm raak.
Uitwerking op die liggaam:
Mandrax- gebruikers kan fisieke en sielkundige afhanklikheid van die dwelm ontwikkel en aanhoudend daarna smag. Hulle het al hoe meer daarvan nodig om die gewenste uitwerking te kry.
Uitwerking op die brein:
Mandraxgebruik verander die brein-chemikalieë met die gevolg dat die gebruiker soos ’n zombie word weens die onderdrukking van die werking van die brein.
HALLUSINOGENE
Hierdie psigedeliese dwelms vervorm ’n mens se werklikheid heeltemal en dompel die gebruiker in ’n droomwêreld waar alles vervorm is, en kleure hoorbaar en klanke sigbaar word. As groot hoeveelhede gebruik word, kan dit jou brein deurmekaarkrap en sinsbedrog en hallusinasies veroorsaak. Dit versnel ook die brein, wat gemoedskommelinge van euforie tot die diepste depressie tot gewelddadigheid kan veroorsaak. Partykeer kan die verlies van identiteit en depressie so erg raak dat dit tot selfmoord kan lei.
8. Kannabis
Straatname
Marijuana, dagga, dope, grass, ghanja, weed
In Suid-Afrika word kannabis op die platteland gekweek en verkoop om die pot aan die kook te hou. Die cannabis-plant bevat meer as 426 bekende chemikalieë, onder meer stowwe wat bekendstaan as THC (tetrahidrokannabinol).
Die hemel:
Jy voel eufories en ontspanne.
Die hel:
Paniekaanvalle, hallusinasies, terugflitse en geheueverlies kan voorkom.
Uitwerking op die liggaam:
Dit veroorsaak sinusitis en brongitis en kan tot longkanker lei. Onvrugbaarheid by mans en vroue, miskrame, doodgeboorte en vroeë sterfte by babas is van die ander gevare.Fetale marijuana-sindroom – gekenmerk deur lae geboortegewig en ontwikkelingsabnormaliteite – kom vyf keer meer voor as fetale alkoholsindroom.
Uitwerking op die brein:
THC verander die brein-chemikalieë wat jou gevoelens, geheue, sintuie en bewegingskoördinasie beheer.
9. LSD
(Lisergiensuurdiëtielamied)
Straatname
Acid, blotter acid, microdot, white lightning
LSD is ’n geurlose en kleurlose dwelm wat in twee vorms beskikbaar is: LSD-papier wat met LSD deurdrenk is; of mikrotablette (“microdots”) wat ’n baie lae konsentrasie LSD bevat.
Die hemel:
Dit voel asof jou sintuie omgeruil is, wat jou laat voel asof jy kleure hoor en klanke sien. As jy genoeg LSD neem, veroorsaak dit illusies en visuele hallusinasies.
Die hel:
Geestesafwykings soos skisofrenie en hewige depressie kan deur die gebruik van LSD aangebring word.
Uitwerking op die liggaam:
Verhoogde polsslag en bloeddruk, gevoelloosheid en swakheid.
Uitwerking op die brein:
LSD beïnvloed ’n groot aantal chemikalieë in die brein, insluitende dopamien en serotonien.
Dit lyk of die dwelm moontlik die vlakke van die stof glutamaat in baie spesifieke dele van die brein verhoog, wat die breinselle oorstimuleer en ’n “elektriese storm”in die brein ontketen.
Elke elektriese storm kan tot blywende breinveranderings lei.
JOU BREIN WORD BESPIED
Nuwe tegnologie stel dokters in staat om mikroskopiese areas van die brein – die gebiede wat die meeste deur dwelmgebruik beïnvloed word – te bekyk.
Die een metode is die sogenaamde Brain SPECT (Single Photon Emission Computed Tomography), waar gammastrale gebruik word om twee- of driedimensionele beelde van aktiewe breingebiede te skep.
Met ’n brein-SPECT kan dokters kyk na die skade wat deur verskillende dwelms as gevolg van aangetaste bloedtoevloei aangerig is, verduidelik dr. Pieter Botha van die radiologie-departement by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.
Dwelms soos alkohol, kokaïen en dagga tas die doetreffendheid van bloedvate in die brein aan en belemmer die bloedtoevoer na sekere gebiede.
Op skanderings verskyn die aangetaste dele as “gate” in die brein. Die skanderings hierbo wys die brein-SPECT’e van drie verskillende crack-gebruikers.
Die kleure op die skandering dui breinaktiwiteitsvlakke aan. Rooi is die beste en geel, groen en blou dui die areas met laer aktiwiteit in afnemende volgorde aan.
4 STAPPE NA DWELMAFHANKLIKHEID
  1. Die eksperimentele stadium.
  2. Die geleentheidsgebruikfase. Jy probeer nie die dwelm aktief verkry nie, maar aanvaar dit as vriende jou dit aanbied.
  3. Die tyd van gereelde gebruik. Jy kry self die dwelm en maak seker dat jy altyd voorraad byderhand het. Jy gebruik dwelms een tot twee keer per week.
  4. Die fase van afhanklikheid of verslawing. In dié stadium sal dwelms die grootste deel van jou lewe uitmaak, en enige poging om jou van die dwelm te skei, sal aansienlike weerstand uitlok.
  5. Dwelmafhanklikheid is ’n dodelike siekte indien dit nie behandel word nie. Dit is al met reg beskryf as ’n reis na nêrens.
FEIT
Al hoe meer dwelms word deesdae chemies só vervaardig dat dit gerook kan word, omdat die effek dan vinniger ervaar kan word.
Wanneer ’n mens tik (metamfetamien) rook, bereik dit binne dertig sekondes die brein en raak jy ‘hoog’, maar as jy dit sluk, neem dit tien tot vyftien minute om by die brein uit te kom.
Bronne: Drugs and Drug Abuse in Southern Africa, Sylvain de Miranda (Van Schaik, 1987) en Donker Liefde, My Verhouding met Heroïen, Anoux Venter, (Tafelberg- Uitgewers, 2007).
Dié artikel is saamgestel met die hulp van een van Suid-Afrika se voorste dwelmkenners, superintendent Casper Venter, chemikus van die chemie-eenheid van die forensiese wetenskap-laboratorium van die SAPD; senior superintendent Deven Naicker, die nasionale hoof van dwelms van die Suid- Afrikaanse Polisiediens; en die Mediese Navorsingsraad.


SO VERDRINK JOU BREIN IN DRANK
Een drankie en jy gesels ’n bietjie makliker. Nog enetjie en jy voel hoe jy ontspan en jou selfvertroue groei. Jy wil nou net partytjie hou. Ná nog ’n drankie voel jy oulik en flambojant. Maar klim jy later in die bed, draai die wêreld. En die volgende oggend het jy die moeder van alle hoofpyne. Wat het met jou brein gebeur?

Alkohol is ’n onderdrukkende middel; dit onderdruk dus die normale funksies van jou brein. Dis geen toeval dat jy eers joviaal voel en later sukkel om regop te bly nie. Die onderdrukkende uitwerking van alkohol is amper soos ’n golf of brander wat deur die brein spoel, het wetenskaplikes bevestig.
Die golf breek voor in die brein, spoel dan sywaarts en agtertoe, oor en deur die brein, en versprei ten slotte na die diepste en weerloosste binnekant daarvan, sê dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die Pathcare-groep op Somerset-Wes.
Jou sywaartse sig kan ná ’n enkele glasie wyn aangetas wees, al het die volle golf nog nie jou agterbrein bereik nie.
Kyk ’n bietjie, stap vir stap, hoe die alkohol deur jou brein spoel:

1. Die joviale fase
Ná minder as ’n halwe glasie per uur onderdruk alkohol die funksies van die frontale lobbe, wat jou inhibisies, selfbeheer, wilskrag, oordeelsvermoë en konsentrasie beheer.
As dié deel van die brein onderdruk word, verminder jou inhibisies, jou selfvertroue neem toe, en jy raak gemoedeliker en ook waagmoediger. Jy praat meer en sommer ook luidrugtiger. Alkohol is werklik ’n goeie sosiale smeermiddel.
Dié fase begin reeds as die vlak van alkohol in jou bloed 0,01 g/100 ml is.
Minder as ’n halwe glas per uur is nodig om dié vlak te bereik en dis ver onder die wetlike perk van 0,05 g/100 ml.
Maar glo dit as jy wil, jy ervaar reeds ’n verlies aan oordeel en ’n veranderende persoonlikheid wat jou risiko verhoog om weens onnatuurlike oorsake, soos in ’n ongeluk of bakleiery, te sterf.
Baie mense kan deur goeie selfbeheer vir hulself en ander wegsteek dat hul oordeel aangetas is, maar of jy dit kan verdoesel of nie, jou oordeel ís wel aangetas.
2. Die sleeptong-fase
Die volgende deel van jou brein waaroor die alkoholbrander spoel, is die pariëtale lobbe bo-op en langs die kant van jou kop.
As jy sowat 0,10 g/100 ml (so twee tot drie drankies per uur) gedrink het, word jou motoriese vaardighede ingekort.
Jy praat moeiliker en met 'n sleeptong wat jy – snaaks genoeg – self nie hoor nie. Jy kan begin bewe en ingewikkelde bewegings, soos die vasmaak van hempsknope, raak moeiliker.
Jy sal nie meer so maklik op ’n reguit lyn kan loop nie. Terselfdertyd stomp jou sintuie af en jou reuk-, smaak- en tassin is net nie meer wat dit behoort te wees nie.
3. Die sukkel-om-te-sien faseAs die alkohol jou agterkop en oksipitale lob bereik, is die vlak van alkohol in jou bloed gewoonlik sowat 0,15 g/100 ml.
Jy het dan al so vier tot vyf drankies (of twee tot drie dubbels) in ’n uur weggeslaan.
Nou begin dinge werklik gevaarlik raak, al dink jy nie so nie. Jy sien ál slegter. Jy sukkel ál meer om beweging en afstand te skat, en jy kan nie meer goed uit die hoek van jou oog sien nie.
As jy nou in skemerlig jou kar bestuur, gaan jy sukkel om ’n voetganger of die seuntjie wat agter sy bal aanhardloop, betyds te sien. Jy kan hulle doodry of agter in ’n stadig bewegende vragmotor vasjaag.
4. Die omval-fase
As jou bloedalkoholvlak ongeveer 0,20 g/ 100 ml is, en jy dus so vier tot ses doppe of so drie dubbels per uur agter die blad het, tref die alkoholgolf jou kleinbrein.
Nou is jou balans aangetas en sukkel jy om regop te bly. Hopelik het jou vriende jou al êrens veilig neergelê sodat jy jou roes kan afslaap.
5. Die papdronk-fase
Ons hoop jy is êrens veilig in ’n bed, want jy is nou byna bewusteloos van dronkenskap.
Die vlak van alkohol in jou bloed is digby 0,25 g/100 ml en dit spoel oor jou middelbrein.
Jy is lam. Jy bewe. Jy kan naar word en jou reflekse is kwaai onder druk. Hopelik hou jy net-net kop sodat jy in dié toestand maar liewer op jou maag aan die slaap raak – lê jy op jou rug, kan jy stik en sterf.
Teen dié tyd is jou bewussyn só onder druk dat jy in ’n koma kan wees.
6. Doodsake-fase
As jy vier dubbels per uur drink, sal jou bloedalkoholvlak gou hoër wees as 0,35 g tot 0,40 g/100 ml, en met soveel alkohol in jou lyf, tref die alkoholgolf jou weerlose breinstam met mening.
Dis nou doodsake, want onderdruk die alkohol die medulla oblongata (die dele van die brein wat jou asemhaling en bloedsomloop beheer), sterf jy.
Die volgende oggendJy het nie bedoel om te veel te drink nie, maar...
Dokter só die kopseer beter:
  • Drink baie water, verkieslik met ’n bietjie suiker of glukose daarin. ’n Groot, soet sportdrankie kan help, of ’n paar koppies soet tee. Die vloeistof sal ontwatering voorkom en die alkohol ’n bietjie verdun, en die suiker sal jou bloedglukosevlak verhoog. Die ekstra glukose help om asetaldehied, die giftige afbraakproduk van alkohol wat die hoofpyn veroorsaak, uit die breinselle te verplaas.
  • ’n Bruistablet wat vitamien B, C en die slymlosmaker N-asetielsisteïen bevat, kan jou liggaam gouer van asetaldehied help ontslae raak.
  • As jy ’n pynstiller nodig het, kan een wat aspirien of die teeninflammatoriese middel naproksien bevat, goed werk. Moet nooit meer as die voorgeskrewe dosis gebruik nie.
Voorkoming bly die beste genesingDis sekerlik beter om glad nie te drink nie. Maar ’n mens bly ’n mens.
Beperk so die uitwerking van alkohol op jou brein:
  • Eet ’n vrug, ’n toebroodjie of ’n stukkie wildsbiltong voor of wanneer jy drink. Kies ’n versnapering wat nie te olierig of vetterig is nie, anders sal jy dalk later weer na drank wil gryp as jy sien hoe vet jy die vakansie geword het as gevolg van al die eetgoed.
  • Drink stadig as jy moeg is of oefening gedoen het – alkohol tas jou gouer aan as jy moeg is.
  • Probeer om nie meer as een drankie per uur te drink nie. Só maak jy ook seker jou bloedalkoholvlak bly binne die wetlike perk van 0,05 g/100 ml bloed.
  • ’n Vrou se liggaam verwerk alkohol stadiger as dié van ’n man omdat mans meer spiere en dus ’n vinniger metabolisme het.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)



HOE BESKERM EK MY KIND TEEN DWELMS?
Enige ouer vrees in 'n stadium dat hulle kind met dwelms in aanraking sal kom? En hulle gaan! Daarom is dit belangrik dat jy as ouer voorbereid moet wees daarop.
Dit is regtig belangrik dat ons as ouers dwelms moet ken, goed ken. Jy moet weet hoe dwelms werk en ook die dwelmwêreld verstaan. Die internet het ‘n magdom inligting en ek stel voor dat ouers dwelmklinieke besoek en met mense gaan praat wat daarmee werk. Hoe meer jy weet, hoe makliker gaan jy die simptome soos gedragsverandering raaksien en leer om die tekens te lees.

Dwelmmisbruik is aan die toeneem. In 2009 het die behandeling van dwelm- en alkoholafhanklikheid met 25% gestyg en ‘n derde van alkohol- en dwelmafhanklikes is onder 21 jaar.
Die meeste dwelm- en alkoholmisbruik kom in Gauteng voor. Die tipe dwelms wat die meeste deur kinders misbruik word, is alkohol en dan dagga. Verder is daar ook wat ons die klubdwelms noem, soos LSD, acid, ecstasy, kokaïen en natuurlik die alkohol wat daarmee saamgaan. As ouer moet jy weet in watter vorm dwelms verkoop word, hoe dit verkoop word en waar. Kinders kom meestal op partytjies daarmee in aanraking.

Daar is sekere risikofaktore waarna jy ook moet oplet, soos aggressiwiteit en ontoereikende impulsbeheer. Kinders met  onopgeloste trauma is geneig om gouer verslaaf te raak. Die meeste alkohol- en dwelmmisbruik gaan met emosionele probleme gepaard. Ons praat van 'n tweeledige diagnose, waar dwelmafhanklikheid saam met 'n geestestoestand voorkom, soos depressie, trauma en emosionele probleme.
Wanneer kinders nie goeie ondersteuning by hulle ouers of vriende kry nie, kan hulle maklik in die greep van dwelms beland. 'n Afhanklike sal baiekeer die samelewing vir sy optrede of probleme blameer.
Die oorgangsfases in 'n kind se lewe is gewoonlik die hoërisikotye. Elke oorgangsfase gaan mos maar met aanpassing en onsekerheid gepaard en dit is wanneer die meeste kinders baie sensitief en kwesbaar is.

Jy kan nie altyd jou kinders beskerm nie, maar jy kan hulle bemagtig. En daarvoor is ‘n goeie fondament nodig. Vertrou hy jou al maak hy droog en stamp sy kop? Weet sy dat jy haar sal help sonder om haar te verstoot. Jy mag vir jou kind kwaad wees, maar hy moet nooit verwerp voel nie.

No comments: